Murray-fotoalbum

Tuis

Jongste nuus

Saamtrekke en reünies

Murray: Kort geskiedenis
Murray: Stamboom

Murray: Naamstudie

Bedrywighede
Familiestaaltjies
Fotoalbum

Skakels
Kontak ons

www.murray.za.net

www.murray.za.net

Ou foto's van die Murrays

Peter skryf:
Ek het pas weer die boek van Anna Cloete oor die Familie Orlandini gelees. Daarin verskyn talle familie-foto's oor 'n tydperk van sowat 100 jaar. 'n Seun van ons stamvader John Murray – Robert William Murray (gebore: 24:11:1819) – is op 17:05:1852 op Stellenbosch met Elizabeth Orlandini getroud. Robert William was 'n perdehandelaar op Stellenbosch. In hierdie boek van Anna Cloete kom nie minder nie as 102 foto's voor wat direk of indirek met die familie Orlandini van Suid-Afrika te doen het.

Ook die Andrew Murray-familie van Suid-Afrika spog met hul eie boek, "Murray-Stamregister 1794-1954" , wat deur Emma Horn opgestel is. Daarin verskyn wel net twee foto's, maar dit is foto's van die heel eerste lede van hul familie. Dit is 'n voorreg om so-iets te besit.

Nouja, nou wil ek net vir die John Murrays sê, as bo-genoemde twee families dit kon doen, dan kan ons dit mos ook doen. Ek wil hiermee alle Murrays uitdaag om aan my minstens een foto van elke gesin te stuur wat ek in die Murray-stamboom (of dalk later in 'n John Murray-boek) kan plaas.

Vanselfsprekend is sulke ou foto's onvervangbaar en heg elke gesin en elke individu groot waarde aan daardie aandenkings van hul ouers, grootouers en groot-grootouers. Diegene wat oor 'n rekenaar met 'n skandeerder beskik, kan gerus sulke ou fotos, waarop elke gesinslid verskyn, op hul rekenaars bêre en beveilig. Stuur dan aan my een of meer fotos wat goed verteenwoordigend is van jul hele gesin. Onthou ook om jul oupa en ouma se portrette te stuur. Maar die heel belangrikste is daardie heel ou fotos, wat miskien al 150 jaar oud is, en wat definitief onvervangbaar is. Maak, of laat maak, 'n afdruk daarvan en stuur dit elektronies aan my. Indien jy nie oor 'n rekenaar en 'n skandeerder beskik nie, stuur dan die afdruk self aan my. My adresbesonderhede is op die kontak-bladsy.

Ons huidige foto-albumpie

Ons foto-album bestaan nog net uit 'n klein verskeidenheid foto's. Familielede is maar suinig om hul foto's beskikbaar te stel, omdat dit vir sommige mense té persoonlik is en dit nie graag aan die algemene publiek wil vertoon nie. Ons doen egter 'n beroep op almal wat in besit van ou foto's is, om dit aan ons te leen sodat ons dit in hierdie elektroniese album kan plaas.

Fotografie het glo in 1837 in Frankryk begin. Die eerste foto wat in Suid-Afrika geneem is, was in 1842 in Port Elizabeth. Die oudste Murray-foto wat tans in ons besit is, is in 1866 in Kaapstad geneem. Dalk is daar ander Murrays wat in besit van ouer foto's is. Ons verneem graag of daar interessante foto's beskikbaar is om hier te plaas.


John Murray III

... oftewel John [van] Kaapstad, oftewel John 1818, oftewel John Lightning, oftewel John Junior, oftewel John [die] Onderwyser.

John Lightning en gesin

Peter skryf:
Dit is John (gebore: 1818 te Kaapstad) saam met sy vrou en drie van sy vier dogters. (Die kinders was, in die regte volgorde: Barbara, Martha, Anna, Izak (my oupa), John, Hermanus, en Helena). Die dogters hier op die foto is: Martha, Anna en Helena. John se vrou se naam was: Helena Josina de Milander. Sy en haar man was niggie en neef.

Ek het hierdie foto aan die Nasionale museum in Bloemfontein gestuur. 'n Deskundige, ene mej Amanda Groenewald, het die foto van hoek tot kant bestudeer. Ek sê toe vir haar dat die name en datum agterop geskryf staan, maar die datum is baie dof en byna onleesbaar. Dit lyk vir my of dit 1866 kan wees. Sy het toe, na aanleiding van wat ek haar vertel het, en die kleredrag wat almal op die foto aangehad het, bevestig dat dit 1866 MOET wees. Sy is 'n deskundige van ou fotos, en van kleredrag en dames-modes van daardie tyd.

Dis vir my regtig 'n besondere foto, dis net jammer dat die klomp seuns (en die oudste dogter) afwesig was. As die gesin heeltemal voltallig was, en elkeen was so duidelik soos hierdie klomp, dan sou dit werklik africana gewees het.

Die eerste foto is in 1837 geneem. Fotografie was dus nog iets nuuts in 1866, en dit was seker nie vir almal moontlik om afgeneem te word nie.

Henry Murphy Murray

Henry Murphy Murray

Percy skryf:
Hier is die foto van my oupagrootjie Henry Murphy Murray 1832 - 1869. Ek weet nie wanneer dit geneem is nie, maar Henry is op 11 Oktober, 1869 dood, so dié foto is ook baie oud. Volgens oorlewering is hy oorlede nadat hy deur 'n perd afgegooi is. Ongelukkig het ek nie 'n foto van my oumagrootjie nie. Sy was Andrina Louisa Brink en is in 1873 oorlede, blykbaar as gevolg van borskanker. My oupa Andries Brink Murray was toe net 8 jaar oud. Wat toe van die (wees)kinders geword het, is 'n storie wat ek later kan vertel.

Drie foto's oor John en Martha se huwelik

Cape Archives, Cape Town: Matrimonial Court Proceedings 1/CT:

Zaturdag den 3e February, 1816 zyn voor het Collegie van Commissarissen van Huwelyksche (xxx) verscheenen de navolgend persoonen ter xxx van de gewoonch Huwelyksche Proclamatien als
31 jaar John Murray geboortig van Edinburgh in Schotland jongexxx
24 jaren Martha Geysberta de Melander van Cabo voorm jonggedxxx
Zo zyn deselve aan hun na voorgaande examinatie xxx
Aan Kaap de Goede Hoop Datum ut Supra

Cape Archives, Cape Town: Matrimonial Court Proceedings [Annexures] 1/CT:

ik ondergeteekene certificeeren by deeser
met volkoome toestemme aan mijn
mender jaarerige dogter Martha
Geijsbertha de Melander Een huwelyk
te mooge aangaand met de heer
John Murraij Jnr
De weduwe M de Melander
geboore Kotze
Als getuygen Dk Js de Melander
George Tait

Cape Archives, Cape Town: Anglican Baptismal, Marriage & Death Registers A1939 1/1/1 p.153:

1816
Cape Town
Settlement of Good Hope
20th February, 1816.
All requisite forms and ceremonies having been complied with
John Murray from Edinburgh in Scotland, Bachelor and
Martha Gysberta de Melander of the Cape of Good Hope,
Spinster were legally married this twentieth day of February
one thousand eight hundred and sixteen.
By me J S Hewett
Military and Acting Colonial
Chaplain
This marriage was solemnized between us
John Murray
Martha de Melander
In the presence of
G. Tait
J. Merrington.

Samuel Murray sr op kweekskool

   

Peter skryf:
Hierdie foto is in 1934 geneem en is van die studente en personeel van die Kweekskool op Stellenbosch. Oupa Samuel Murray staan in die tweede ry van agter, derde van links. Hy was daardie jaar 'n eerste jaar-student op Kweekskool.

Kliek op die klein foto vir 'n volgrootte foto.

Samuel Murray sr op kweekskool II (Princeton)

   

Peter skryf:
Hierdie portret is van die teologiese studente aan die kweekskool van die Universiteit van Princeton, New Jersey, VSA. Die foto is in 1938 geneem. Oupa Samuel Murray staan in die tweede ry van bo, twaalfde van regs, in die ligte pak klere. Dit is jammer dat ons nou eers hierdie foto op die internet kan plaas, want ek twyfel of daar nog iemand van die mense op die foto is, wat nog leef. Almal op die foto is waarskynlik lankal dood. Maar miskien is daar van die kinders (iewers in die wêreld) wat nog leef, en wat hul pa's, oom's, of oupa's sal kan herken.

           

My pa het destyds vir my verduidelik dit was 'n tiepe van 'n rolprent-kamera. Dit neem nie in een sekonde, of met 'n enkele "klik" die hele foto nie. Die kamera se afneem het 'n rol-aksie. Die fotograaf begin links en dan beweeg hy sy kamera egalig van links na regs. Twee ouens op die foto was bewus daarvan - hulle staan heel links op die foto (die twee wat lag) - toe hardloop hulle agter om verby en gaan staan heel regs op die foto. Hulle verskyn dus 2 keer op dieselfde foto.

Izak Murray en sy gesin

Peter skryf:
Oupa Izak Murray en sy gesin:
Voor: Abraham (Abé), Samuel (Sam) en Hamilton (Ham).
Middel: Oupa Izak, Barbara, Judith, John, ouma Dina en Helena Josina (Cinie).
Agter: Frederick (Fred), Elizabeth (Ellie), Izak (Boet Sakkie), Hermanus (Manie) en Dinah.

Grafsteen van Samuel sr en Eunice Phoebe Murray

Peter skryf:
Ds Samuel Murray en sy vrou Phoebé is op Kareedouw in die Oos-Kaap, Suid-Afrika begrawe.

Waar Izak Murray begrawe is

Peter skryf:
Dit is jammer ons oupa Izak Murray se graf het nie 'n grafsteen op nie.
Hy en ouma Dina (De Vries) Murray is in grafte Nommer 99 en 100 in die ou begraafplaas van Petrus Steyn begrawe. Ek het hierdie foto in 1990 geneem. Daar waar grafte 99 en 100 moet wees, is die grond kaal en gelyk. Daar is geen grafsteen op nie. Ek het die inligting by die munisipale kantoor gekry.

Die Breytenbach-gesin

Peter skryf:
Hierdie foto is ongeveer in 1940 geneem, en is die gesin van pa Samuel se suster Dina. Die twee volwassenes is: Andries Breytenbach (1897) en Dina (Murray) Breytenbach (1897). Die kinders is: Adriana Murray (Breytenbach) Van Deventer (1938); Jacobus Breytenbach (1932); en Izak Breytenbach (1934).

Dina en Izak Murray

Peter skryf:
Dit is nie bekend wie die seuntjie voor in die middel is nie, maar dit is waarskynlik pa Samuel (wat in 1913 op Loxton gebore is). Sittend is ouma Dina (De Vries) Murray (gebore: 1867, Prins Albert); en oupa Izak Murray (gebore: 1850, Napier). Die 3 meisies agter is waarskynlik Judith (Murray) Hugo (gebore: 1902, Loxton), Cinie (Murray) Meyer (gebore: 1893, Beaufort-Wes) en Ellie (Murray) Theron (gebore: 1884, Carnarvon). Die datum van die foto is onbekend, maar is waarskynlik in 1917 of 1918 op Victoria-Wes geneem.

John Herman en Gertryda Elizabeth (De Vries) Murray se grafte

Peter skryf:
Hierdie pragtige duidelike foto oor "Loxton se Murrays" het ek van Annelise Meyer op Loxton ontvang.

Samuel voeg by: Dit is die grafte van John Herman Murray (gebore 28 Oktober 1893, oorlede 21 Augustus 1981) en Gertryda Elizabeth (De Vries) Murray (gebore 5 Oktober 1897, oorlede 30 Augustus 1963). John Herman is die vierde kind van John Herman Murray (gebore 1954, van Franschhoek) en Geertruyda Johanna Viljoen (gebore 1866), op sy beurt weer die vyfde kind van John Murray (die onderwyser) en Helena Josina de Milander. Herman en Gertruyda het twee kinders gehad waarvan ons weet, naamlik Maria Mabel (Murray) Jooste (gebore 1922 in Loxton, oorlede 1958, getroud met Jacobus J Jooste, op sy beurt gebore 1908) en John Herman Murray (gebore 1927 in Loxton, getroud met Ena Helena Alberta Mans, op haar beurt gebore 1936). Die graf noem dat Gertryda 'n ouma was, maar ons weet nie wie die kleinkinders was nie.

Barbara (Murray) Burgers Vermaak, 90 jaar oud

Peter skryf:
Barbara (Murray) Burgers Vermaak, regs, was op 19:12:2019, 90 jaar oud. Hier is sy saam met haar twee kinders, Andries Burgers en Marlene Muller op Frankfort.

Izak (Boet) Murray verjaar

Peter skryf:
Hier is 'n foto van my neef, Izak (Boet) Murray van Pretoria. Hy was 28 April 2020 negentig jaar oud. Izak is getroud met Gina (neé Dolfing), oorspronklik van Drenthe in Nederland. Hy is die seun van Izak Johannes Daniël Murray (ab2c4d3) en Petronella Carolina Retief de Villiers.

Bygevoeg:

Izak (Boet) Murray van Pretoria, seun van wyle ds Izak Murray, ook van Pretoria, is op 18 Junie 2020 om 15:00 in Pretoria in die hoë ouderdom van 90 jaar oorlede. Die begrafnis sal op 27 Junie om 11:00 in die Pretoria-Oos begraafplaas plaasvind. Weens die inperkingsreëls van die Covid-19 virus sal slegs 50 familie en vriende by die graf toegelaat word.


(c) Peter Murray, 2005. Laas bygewerk 2020-06-24. http://www.murray.za.net/fotos.html