Grewar-staaltjies

Tuis

Jongste nuus

Grewar: Kort geskiedenis
Grewar: Stamboom

Grewar: Naamstudie

Bedrywighede
Familiestaaltjies
Fotoalbum

Skakels
Kontak ons

Grewar-genealogie Suid-Afrika

Grewar Genealogy South Africa

Staaltjies oor die Grewars

Sodra ons genoeg staaltjies het, sal ons hulle op aparte bladsye sit.


'n Prokureur se raad kos geld

Peter skryf:
My ma se ouer broer - Peter George Louwrens Grewar - was 'n prokureur van beroep, en het ook in sy vrye tyd geboer. Hy het sy praktyk op die klein Noord-Vrystaatse dorpie Petrus Steyn gehad. Blykbaar was hy ewe suksesvol in sy boeredry as in sy prokureurskantoor, want die volgende staaltjie oor my oom George (soos wat hy onder die familie bekend was) is onlangs deur landdros André Groenewald van Welkom aan my vertel.

Oom George het een jaar 'n buitengewoon groot koringoes gehad. Boonop was die koring van 'n besonder goeie gehalte. Die storie oor sy sukses op die plaas het gou onder mede boere versprei. Eendag kom daar toe 'n boer by hom wat hom oor sy suksesverhaal uitgevra het. Die boer het onder meer gevra wat sy geheim is, en wat hy alles gedoen het om so 'n buitengewoon groot sukses met sy koring te behaal. Oom George het positief gereageer op die boer se vrae en hom alles vertel wat hy wou weet.

Na sowat 'n maand ontvang die boer toe, tot sy groot verbasing, 'n groot rekening van mnr Grewar. Die boer het oom George gebel en verontwaardig gevra wat vir 'n groot rekening dit is wat hy ontvang het. Hy is nie bewus daarvan dat hy enige regshulp van mnr Grewar gevra en ontvang het nie. Soos die storie dit wil hê, het oom George glo vir die boer gesê dat hy 'n professionele mens is, en dat die rekening wat hy hom gestuur het, vir die professionele inligting oor sy suksesvolle koringoes was.

(c) Peter Murray, 2005. Laas bygewerk 2008-01-12. http://www.murray.za.net/grewar/staaltjies.html